Wednesday, August 24, 2011

Tafelberg


Die lof van die pragtige konstruksie uit kalksteen is al die wêreld oor  besing. Soveel so dat dit selfs ‘n finalis is vir die benoeming van een van die wêreld se grootste wonders.
Wanneer mens per vliegtuig terugkom van oorsee of selfs die binneland af, is dit ‘n heuglike gesig om te aanskou.
 Dink net wat ‘n wonderlike gesig was dit vir Jan van Riebeeck en sy bemanning toe hulle in 1652 hier aangekom het. Terloops, ek wonder hoeveel mense weet van sy voorlopers wat vir ‘n geruime tyd teen die duine van, wat vandag bekend staan as Blouberstrand, gewoon het. Maar, dis ‘n storie vir ‘n ander dag.
Maak nie saak van watter kant af mens die Kaap binnekom nie, dis die pragtige gesig van Tafelberg wat jou begroet. Die ou Grote het ook verskillende gesigte, net soos die bui hom die dag beetpak. Wanner dit baie warm en windloos is, staan hy enkeldiep in ‘n vuilpienk rookmis wat oor die stadskom en die hawegebied hang. Dan is die humiditeit so drukkend dat mens bid vir wind. Wind om al die vuil en drukkendheid weg te waai. Die wind waarvan die Gautengers nie hou nie. Dis wanneer dit koud en winderig is, wat die berg soos ‘n diamant skitter. Dan staan hy daar in blouselblou glorie en flankeer met fotograwe. Hulle baljaar en kan nie genoeg kry nie. Van alle kante af tot laat wanneer hy homself baai in die goudrooi van die laaste sonstrale.
Daar is dan ook die dae wat Van Donk sy pyp stook en die miswolke van die Suidekant af in beweeg. Dit lyk behoorlik of Van Donk in ‘n woedende bui sy rook uitgeblaas het.Dis nie lank daarna nie, dan is die hele bokant van die berg bedek met mis.
Nou, onlangs ry ek van Durbanville af in na die middestad. Ek snak na my asem omdat die berg die dag so pragtig lyk. Soos ‘n bruid getooi in haar beste. So mooi, so mooi, so mooi. Ek het nie woorde nie.
Dis toe wat ek oor hierdie storie begin wonder. Die Gautengers sê ons Kapenaars aanbid ‘n groot stuk klip. Wat is nou so wonderlik daaraan, vra hulle. Eensklaps het ek die antwoord. Of liewer, dit wat ek as die antwoord sien.
Ons het vir ruim 38 jaar in Pretoria gewoon. Ek was, is eintlik steeds baie lief vir Pretoria. Ek het baie lekker daar gebly. Daar het ek my man ontmoet (al het hy van Prins Albert af gekom) is daar getroud en beide my kinders is daar gebore. Dit was wonderlike jare wat ek en later ons, daar deurgebring het.
Elke keer wanneer ek Pretoria van Bronkhorstpruit ( waar ek op skool was) se kant af binnegekom het, het my hart warm geword wanneer ek die boomrykheid van hierdie pragtige stad aanskou het. Wanneer ons van die Kaapse kant af gekom het en ek kon die geboue van Unisa teen Lukasrand sien nestel, het ek dieselfde gevoel van genoeglikheid ervaar.   Dieselfde wanneer ons oor die damwal van Hartebeespoort die stad binne gery het.
Hoekom? Het ek die dag toe ek die Kaap so van Durbanville se kant af ingery het, gewonder. Hoekom het ek elkers dieselfde gevoel van genoeglikheid ervaar. Opeens het ek die antwoord gekry. Dis omdat elkeen van hierdie ervarings vir my aangedui het dat dit vir my huis beteken. ‘n Plek waar ek hoort. ‘n Plek waar my hart is, omdat my huis daar is. Omdat ek ‘n gebore Kapenaar is, hoop ek dat my hart na jare se omswerwinge, hier aan die voet van Tafelberg, rus gaan kry.Hier waar ek hoort.

6 comments:

  1. Lidia, Tafelberg is sonder twyfel een van die mooiste en verleidelikste wonders van die wereld. Jy is geseen om dit daagliks te kan beskou. Hier, in my wereld, kan ek dit net sien op foto's en dan verlang ek soveel na Suid-Afrika en My Berg.

    Wat verstommend is, is die feit dat daar soveel mense in die buiteland is wat glad nie 'n idee het van hoe Tafelberg lyk of waar dit is nie.

    Lekker kyk na jou Berg.

    ReplyDelete
  2. Dankie Anton. Jy kry die eer om die eerste kommentaar op my eerste inskrywing op my eie blog, te plaas.

    ReplyDelete
  3. Home is where the heart lies..so when the home moves to the Mountain, then the heart must follow..

    ReplyDelete
  4. Mukhtar...ek kry sommer berusting vir die randjie van die Magalies wat ek hier deur die studeerkamervenster gewaar.
    Lidia, ek hou van 'n berg agter my rug. My verstand gekry teen Towerkop, laerskool gegaan met 'n uitsig op Paarlberg, en sit sedertien tussen Pretoria se laerige randte. Dis maar solank my plek.

    ReplyDelete
  5. Boerneef se "Ouboer by die see" bly maar mooi. Ek het die voorreg gehad om in sy skaduwee groot te word, en ek was al verskeie male op sy rug.

    ReplyDelete