Wednesday, August 24, 2011

Ken jy vir Chris Chameleon?



Dis wat ek vir die jongeling gevra het. Hy gee my ‘n vaal kyk. Wat sal dit toe help ek vertel hom die mooi storie van Chris Chameleon wat een van sy orkeslede se oorbel geleen het om vir ‘n blinde vrou ‘n chameleon op haar program te teken sodat sy dit ook kan ‘sien’. Hy sal nie verstaan hoe dit my geraak het nie.

Dis toe wat ek weereens weet hoekom ek nooit hierdie mooi land van my sal kan verlaat nie. In ‘n vreemde land sal bykans niemand weet wie is Chris Chameleon nie. Hulle sal nie verstaan as ek laggend verwys na die Pieterse kindertjies in Koöperasie stories wat nie een vêrder as standerd een kon vorder nie. Hulle sal nie kan verstaan dat PG maar so oor die armes van gees kan praat nie. Hy kan want hy doen dit met deernis, sonder om met hulle te spot.

Omdat min van hulle vir Gert Vlok Nel sal ken, sal min van hulle verstaan as ek hartseer word wanneer hy sing van Beaufort Wes wat so beautiful is. Of van die treine se gesjunt wat so in die karoo dorpie opgeklink het. Omdat hulle nie eens van ‘n plek soos Beaufort Wes weet nie, sal hulle nie weet hoe mooi die son daar ondergaan nie. Hulle sal nie weet dat dit van stowwerigheid en hitte is wat dit so mooi is nie. Ek word hartseer want ek ken dit, dit voer my terug na die stowwerige klein dorpies van my jongdae.

Hulle sal ook nie weet hoekom ek vir Marius Weyers in die ou kusdorpie waar ons gebly het, met sterre in my oë agterna kyk nie. Nie omdat hy sy ‘vrou’ in Sewende Laan verneuk nie. Veel eerder omdat daar nooit weer ‘n Ampie soos hy was nie. ‘n Ampie soos wat hy was in die Breytenbach Teater, ver terug toe ek ook nog jonk was. Ag, hulle sal nie eens van Ampie weet nie, laat staan nog Marius Weyers se wonderlike vertolking. Ook sal hulle nie kan verstaan van Louis van Niekerk  en Annette Engelbrecht wat so kostelik in Mattewis en Meraai was nie. Hoe ek tot vandag toe nog kan onthou hoe die skugter Mattewis op die vryers bank vir Meraai gesê het “Gesels nog!”

Om nie te praat nie van die gejuig en handeklap wat deur die teater gegalm het toe Fanus Rautenbach nou onlangs, met die skuifel stappie van ‘n ou man op die verhoog gelei is. Hoe daar ‘n speld wat in die teater val, gehoor kon word toe hy met ‘n yl stemmetjie begin praat het. Uit respek vir ‘n legende. In herinnering van hoe ons met sy vrolikheid, almal flink uit die vere uit gekom het.

Nee, in annerland sou hulle nie weet nie, nie verstaan nie want ons lag nie oor dieselfde dinge nie. Ek sou totaal gekwyn het soos ‘n vetplant in die reënwoud want ons humor is nie hulle humor nie. My tande sou stomp word van al die Engels praat.


Naskrif: Toe ek hierdie geskryf het, het Fanus Rautenbach nog geleef.

3 comments:

  1. Ek wil net sê, Ja, ek ken vir Chris. En ja, ek ken van hierdie geskiedenis waarvan jy praat. En ja, my tande is al stomp gepraat aan Engels.
    Nou verlang ek meer as ooit na my land, my taal en my herkoms. Dankie daarvoor.

    ReplyDelete
  2. Dankie Lidia. Ons het soms nodig om aan hierdie goed ook herinner te word. Van die ander kant kry ons elke dag meer as genoeg.

    ReplyDelete