Ek wil almal bedank wat hier by my aangesluit het en ook die moeite gedoen het om kommentaar te lewer. Baie van my vriende kla dat hulle nie hier toegelaat word, of toegelaat is om kommentaar te lewer nie. Ek is nog nuut in die blogwêreld, daarom is dit vir my nog maklik om te skuif.
Kom kuier gerus vir my voortaan by my nuwe adres:
voormyvensterverby.posterous.com
Sien julle daar.
Terloops ek kon nie julle pragtige kommentare saamtrek nie. Voel dus vry om weer daar kommentaar te lewer.
Voor my venster verby
Hier skryf ek oor alles en nog wat. Alles wat ek waarneem op my pad, gebeurtenisse wat my bly maak en ook wat my hartseer maak.Mooi voorvalle, ontstellende gebeurtenisse. Sommer alles wat by my die behoefte laat ontstaan om daaroor te skryf.
Thursday, August 25, 2011
Wednesday, August 24, 2011
Ken jy vir Chris Chameleon?
Dis wat ek vir die jongeling gevra het. Hy gee my ‘n vaal kyk. Wat sal dit toe help ek vertel hom die mooi storie van Chris Chameleon wat een van sy orkeslede se oorbel geleen het om vir ‘n blinde vrou ‘n chameleon op haar program te teken sodat sy dit ook kan ‘sien’. Hy sal nie verstaan hoe dit my geraak het nie.
Dis toe wat ek weereens weet hoekom ek nooit hierdie mooi land van my sal kan verlaat nie. In ‘n vreemde land sal bykans niemand weet wie is Chris Chameleon nie. Hulle sal nie verstaan as ek laggend verwys na die Pieterse kindertjies in Koöperasie stories wat nie een vêrder as standerd een kon vorder nie. Hulle sal nie kan verstaan dat PG maar so oor die armes van gees kan praat nie. Hy kan want hy doen dit met deernis, sonder om met hulle te spot.
Omdat min van hulle vir Gert Vlok Nel sal ken, sal min van hulle verstaan as ek hartseer word wanneer hy sing van Beaufort Wes wat so beautiful is. Of van die treine se gesjunt wat so in die karoo dorpie opgeklink het. Omdat hulle nie eens van ‘n plek soos Beaufort Wes weet nie, sal hulle nie weet hoe mooi die son daar ondergaan nie. Hulle sal nie weet dat dit van stowwerigheid en hitte is wat dit so mooi is nie. Ek word hartseer want ek ken dit, dit voer my terug na die stowwerige klein dorpies van my jongdae.
Hulle sal ook nie weet hoekom ek vir Marius Weyers in die ou kusdorpie waar ons gebly het, met sterre in my oë agterna kyk nie. Nie omdat hy sy ‘vrou’ in Sewende Laan verneuk nie. Veel eerder omdat daar nooit weer ‘n Ampie soos hy was nie. ‘n Ampie soos wat hy was in die Breytenbach Teater, ver terug toe ek ook nog jonk was. Ag, hulle sal nie eens van Ampie weet nie, laat staan nog Marius Weyers se wonderlike vertolking. Ook sal hulle nie kan verstaan van Louis van Niekerk en Annette Engelbrecht wat so kostelik in Mattewis en Meraai was nie. Hoe ek tot vandag toe nog kan onthou hoe die skugter Mattewis op die vryers bank vir Meraai gesê het “Gesels nog!”
Om nie te praat nie van die gejuig en handeklap wat deur die teater gegalm het toe Fanus Rautenbach nou onlangs, met die skuifel stappie van ‘n ou man op die verhoog gelei is. Hoe daar ‘n speld wat in die teater val, gehoor kon word toe hy met ‘n yl stemmetjie begin praat het. Uit respek vir ‘n legende. In herinnering van hoe ons met sy vrolikheid, almal flink uit die vere uit gekom het.
Nee, in annerland sou hulle nie weet nie, nie verstaan nie want ons lag nie oor dieselfde dinge nie. Ek sou totaal gekwyn het soos ‘n vetplant in die reënwoud want ons humor is nie hulle humor nie. My tande sou stomp word van al die Engels praat.
Naskrif: Toe ek hierdie geskryf het, het Fanus Rautenbach nog geleef.
Tafelberg
Die lof van die pragtige konstruksie uit kalksteen is al die wêreld oor besing. Soveel so dat dit selfs ‘n finalis is vir die benoeming van een van die wêreld se grootste wonders.
Wanneer mens per vliegtuig terugkom van oorsee of selfs die binneland af, is dit ‘n heuglike gesig om te aanskou.
Dink net wat ‘n wonderlike gesig was dit vir Jan van Riebeeck en sy bemanning toe hulle in 1652 hier aangekom het. Terloops, ek wonder hoeveel mense weet van sy voorlopers wat vir ‘n geruime tyd teen die duine van, wat vandag bekend staan as Blouberstrand, gewoon het. Maar, dis ‘n storie vir ‘n ander dag.
Maak nie saak van watter kant af mens die Kaap binnekom nie, dis die pragtige gesig van Tafelberg wat jou begroet. Die ou Grote het ook verskillende gesigte, net soos die bui hom die dag beetpak. Wanner dit baie warm en windloos is, staan hy enkeldiep in ‘n vuilpienk rookmis wat oor die stadskom en die hawegebied hang. Dan is die humiditeit so drukkend dat mens bid vir wind. Wind om al die vuil en drukkendheid weg te waai. Die wind waarvan die Gautengers nie hou nie. Dis wanneer dit koud en winderig is, wat die berg soos ‘n diamant skitter. Dan staan hy daar in blouselblou glorie en flankeer met fotograwe. Hulle baljaar en kan nie genoeg kry nie. Van alle kante af tot laat wanneer hy homself baai in die goudrooi van die laaste sonstrale.
Daar is dan ook die dae wat Van Donk sy pyp stook en die miswolke van die Suidekant af in beweeg. Dit lyk behoorlik of Van Donk in ‘n woedende bui sy rook uitgeblaas het.Dis nie lank daarna nie, dan is die hele bokant van die berg bedek met mis.
Nou, onlangs ry ek van Durbanville af in na die middestad. Ek snak na my asem omdat die berg die dag so pragtig lyk. Soos ‘n bruid getooi in haar beste. So mooi, so mooi, so mooi. Ek het nie woorde nie.
Dis toe wat ek oor hierdie storie begin wonder. Die Gautengers sê ons Kapenaars aanbid ‘n groot stuk klip. Wat is nou so wonderlik daaraan, vra hulle. Eensklaps het ek die antwoord. Of liewer, dit wat ek as die antwoord sien.
Ons het vir ruim 38 jaar in Pretoria gewoon. Ek was, is eintlik steeds baie lief vir Pretoria. Ek het baie lekker daar gebly. Daar het ek my man ontmoet (al het hy van Prins Albert af gekom) is daar getroud en beide my kinders is daar gebore. Dit was wonderlike jare wat ek en later ons, daar deurgebring het.
Elke keer wanneer ek Pretoria van Bronkhorstpruit ( waar ek op skool was) se kant af binnegekom het, het my hart warm geword wanneer ek die boomrykheid van hierdie pragtige stad aanskou het. Wanneer ons van die Kaapse kant af gekom het en ek kon die geboue van Unisa teen Lukasrand sien nestel, het ek dieselfde gevoel van genoeglikheid ervaar. Dieselfde wanneer ons oor die damwal van Hartebeespoort die stad binne gery het.
Hoekom? Het ek die dag toe ek die Kaap so van Durbanville se kant af ingery het, gewonder. Hoekom het ek elkers dieselfde gevoel van genoeglikheid ervaar. Opeens het ek die antwoord gekry. Dis omdat elkeen van hierdie ervarings vir my aangedui het dat dit vir my huis beteken. ‘n Plek waar ek hoort. ‘n Plek waar my hart is, omdat my huis daar is. Omdat ek ‘n gebore Kapenaar is, hoop ek dat my hart na jare se omswerwinge, hier aan die voet van Tafelberg, rus gaan kry.Hier waar ek hoort.
Subscribe to:
Comments (Atom)


